Besluite en teleurstellings.
In die tye en dae wat dit so stil was op hierdie ou werfie, het daar baie dinge gebeur. Nie vreeslik fisies nie, meer oor wat in die gedagtes aangaan en besluite wat geneem moet word oor wat en waarheen die stofpad my nou neem. Party dae het dit geklink soos ‘n bos telegraaf in my kop. So na amper twee jaar se voorbereiding het ek toe maar besluit om nie meer oor die Atlantiese Oseaan te trek nie. Dit is te ver en ek het nie nou die energie om weer van voor af te begin nie.
Dit mag dalk vreemd wees vir sommige dat mens so lank neem om jou dinge reg te kry en dan om op die laaste te ontrek. Dit is nou maar seker soos die lewe is. Ek voel net as jou hart en siel nie regtig by ‘n saak is nie moet jy liewer op sy staan en dit laat vaar. Dit is presies wat in die laaste paar maande gebeur het. Die slotsom is dat Europa nou maar my tuiste sal wees na 14 jaar, sal seker ook wees vir die jare wat kom.
Ongelukkig is die besluite nie verby nie. My tyd in Ierland is ook besig om tot einde te kom. Na amper 10 jaar is dit ook nou genoeg. Daar is darem ‘n flou liggie aan die einde van die tonnel, maar sal seker eers teen einde Julie weet of dit gaan helder word en of daar nog ‘n kruising is in die stofpad vorentoe.
Die enigste teleurstelling nuus gedurende die tyd is toe ek vandag lees dat daar geen “kaalbas kolonie in Orania” gaan wees nie. Nou moet ek weer gaan klere koop! Dêmmit!



Ek lurve jou kiekie!
Jy sal sien dat alles eventually vir die beste uitwerk. Ek is ‘n groot aanvoerder van HOOP (as in Hope) ook nog!
Sterkte ou krok! x
Partykeer werk dinge beter uit as jy ophou verwag en beplan. Raak rustig en laat die windjie jou maar waai tot waar jy moet wees. Solank daar waarheen jy waai ‘n internetlyn het om vir ons goedjies te srkyf is als OK
Jy en die Boepens Oom gaan nog lank met my opgeskeep sit in Europa. Gaan Maandag 5 Julie vir twee onderhoude in London. So ek hoop maar duimvas dat die liggie sal aangaan.
Ek hou ook duim vas dat die liggie aangaan. Is dit vir werk in Londen self, of iewers anners op die vasteland? Ek dink Italië sal ‘n goeie opsie wees… dalk Griekeland…
Griekeland sal ek liewer “pass” op die stadium. Foeitog die land is insolvent. Kan nie eers inruil by pandjieswinkel nie. Switserland of Oostenryk.
Oostenryk dan… weet nie, Switserland is net so “skoon”, asof dit nie regtig is nie.
Ek het so ietwat van ‘n skoon “sindroom” so Switserland pas my. Oostenryk is net so puntenerig as dit by “mooi” en “skoon” kom. Die wonderlikste van alles is, dit werk!
Ooooooooo La Tatta!!!
Dis darem maar baie baie lekker om jou vanoggend weer hier te kon raaklees!
Sneeuw^reld wat jy na kyk, sien ek. Ons het self die voorreg gehad om verby die sneeu hierdie winter te ry – al die pad op roete R62 tot in die ou Transkei!
Weet jy Rustig, daar is darem baie rustige plekkies hier in SA wat kan doen met iemand wat heerlike geregte kan voorsit.
Sal jy dan nooit weer wil terugkeer nie?
Wil sommer hallo sê vir: Wippers, Pikkie, Girl en Kie hierso.
Ek sê nie nooit nie, maar wel seker nie gou nie.
Ja, ja ek weet. Mostert na die maal. Ek was seker weer iewers in ‘n kosry terwyl jy ‘n comeback gemaak het. Welkom terug.
Sekere besluite moenie afgerammel word nie, dit moet gelos word om te gis en ontwikkel op hulle eie tyd. Oostenryk of Switserland klink vir my na heel billike plekkies om die tyd te verwyl terwyl oom Beau sy plekkie regkry.
Voorspoed daarmee.
PJ: Jy weet mos dat hier op die werf mense maar laat mag kom! Daar is genoeg kos en wyn vir “seconds”! Ek vind net dat as mens sommige gedagtes lank laat gis mens soms ‘n moerse “hangover” kan kry.