Verkoop van my area.
Dit is baie moeilike opdrag wat die “pastorie vrou“ nou weer uitgedeel het. Die probleem is dat ek basies op twee verskillende plekke groot geword het en dat elkeen was en is vir my besonders in sy eie wese. Die plaas het my op my eie gelos en kon die wêreld vol wandel sonder om lastig geval te word deur enige volwasse mens. Die wêreld was myne alleen. Vakansies by die see was anders. Mense, vriende en ‘n horison wat gelê en wag het om eendag besoek te word.
Die besluit is om die area te verkoop wat ek dan nou beskou as my tuiste tydens besoeke aan Suid Afrika. Die Overberg. Om presies te wees Hermanus en Onrustrivier. Wat as vakansie tuiste begin het in 1968 het op einde ‘n permanente tuiste geword. Dinge het baie verander deur die jare, veral Hermanus het uitgebrei en saam met dit ook onsettend duur geword, veral met eiendomme. Ten spyte van dit het die gebied baie om te bied. Vele wynplase op jou voorstoep in die Hemel en Aarde Vallei. Hamilton-Russel, Bouchard-Finlayson (my gunsteling) en Whalehaven om paar te noem. Wat meer kan mens verlang as wyn, see en vars lug!
Hermanus het ook baie interessante geskiedenis in sy eie reg. Oorspronklik was dit Hermanuspietersfontein genoem, wat omtrent ‘n bekvol is. Ook seker die enigste dorp in Suid Afrika met ‘n stasie en platform, maar geen trein het nog opgedaag nie en geen spoorlyn is toe gebou nie. Bekende skip die HMS Birkenhead het op 26 Februarie 1852 naby Gansbaai gesink.
Hermanus is ‘n plek wat baie besoekers maklik in versoeking kan bring om eiendom te koop, maar veral om ‘n besigheid te begin of restaurant. Ongelukkig is die dorp baie seisoens gebonde en die droom verander gou in ‘n nagmerrie en die hoë huur en eiendom pryse maak dit ook nie veel beter nie. Hermanus is ook gedurig in die nuus oor die bobbejaan probleem wat inwoners ondervind, veral die wat se spog huise teen die voet van die berg gebou is. Oor die afgelope jare het die walvisse wat elke jaar in die Walkerbaai kom geboorte skenk, die dorp selfs internationaal bekend gemaak. Elke jaar word daar ook feeste gehou op Hermanus, waarvan die bekendste seker die Walvis Fees is, wat elke September gehou word.
Onrustrivier is meer ‘n woonbuurt as dorp, alhoewel dit vir jare sy eie munisipaliteit gehad het tot so paar jaar terug. In die begin jare was die meerderheid inwoners vakansiegangers, waarvan die meeste wynboere was uit Robertson, Worcester en Ceres omgewing wat die woonbuurt ‘n baie lekker atmosfeer gegee het. Dit het ook oor die jare verander en sedert “mammon” die Suid Afrikaner se lewe oorgeneem het is dit ook nou een van die duurste plekke om ‘n vakansie huis te koop. ‘n Interessante feit is dat die karavaan park in Onrustriveir, oorspronklik ‘n meentgrond was, waar die vroeë inwoners hulle beeste laat wei het. Die wet is nooit verander nie, so in teorie kan enige persoon wat daar woon ‘n koei daar laat wei. Onrus het baie ontwikkel oor die jare. Van ‘n grond pad dorpie in 1968 met so paar huise, is daar nou omtrent geen erwe beskikbaar vir verdere uitbreiding nie. Die paaie is darem intussen geteer en riool is ook so paar jaar terug. Soos alles in Suid Afrika raak dit ook net duurder en die dienste swakker. Steeds bly dit my gunsteling plek en het dit baie herinneringe. Wat dit so lekker maak is dat almal rondom ons (bure) se kinders saam groot geword het en selfs vandag nog oor en weer kuier as ons die slag mekaar sien en hulle kinders kuier weer oor en weer. Dit is asof die proses homself net weer herhaal.
PS. My ouers het die oorspronklike huis vir R7600 gekoop in 1968, toe ek een jaar oud was.



WoW… Dis ‘n mooi deel van die land daai. Girl het maar net van agter die boerewors gordyn getrek na voor die boerewors gordyn… Die jakaranda stad verruil vir die goudstad…
Ek twyfel of ek die Kaap sal verruil vir die Noorde. Soos hulle sê “home is where the heart is”. Waar ek nou bly mis ek die see. Ek hou daarvan om die see te sien, hoor en ruik, maar nie veel van swemmer nie.
Die see het daadwerklik ‘n uitwerking op ‘n mens se siel… al is dit net die gedruis wat jy hoor!
Uitstekende stuk werk hierdie Rustig! Baie dankie – ek leer ongelooflik baie van HOE julle jul eie dorpe beskou. Ek MOET tog self daardie deel gaan verken – laas daar gewees as jong meisie!
Aan WIE het Hemel en Aarde behoort voordat dit in ‘n woongebied verander is? Weet jy dalk?
Sammi: Hemel-en-Aarde is die hele vallei. As jy praat van die Hemel-en-Aarde woongebied, by die Sandbaai vier rigting stop; daardie was oorspronklik Mooisig Melkery hele paar jaar gelede toe ek nog in die “single digits” was. Dit het behoort aan die Schneiders wat dit verkoop het het en ontwikkel het in die huidige woonbuurt. Te duur vir my.
Om die Kaap te verkoop het mens bloot prentjies nodig!
Is waar, maar ek dink tog elke provinsie het sy eie mooi. Mens kan nie regtig een plek met ander vergelyk nie. Selfs Namakwaland het sy mooi, tydens droogte sowel as reën.
Was in my lewe nog nooit daar nie. Sou graag eendag daar ‘n draai wil gaan maak. Ag, maar wanneer?
Wanneer? Baie gou sal ek sê. Dit is slegs twee ure se vlieg vanaf Johannesburg en so uur se ry vanaf Kaapse lughawe. Januarie is goed, want ek is dan tuis.
Ek kom volgende week soontoe. Dit is nou wel net vir vergaderings, maar beggars can’t be choosers!
Jy moet so tydtjie afknyp en die dorp deur snuffel. Dalk is daardie huisie by die see vir R14 miljoen net die ding wat jy nodig het. Jy sal dalk net weer ‘n “boot sale” moet hou.
My neef het ‘n vakansie-plekkie by Onrustrivier. Mmmmm, laat my dink ek moet dalk weer so bietjie “incash” op familie-voordele…
Slim idieë. Almal doen dit, hoekom nie jy nie. Bring net baie wyn, dan sal hulle seker nie kla nie.
Ek sal verkies om te gaan as hulle nie daar is nie
En ek dink weer ek moet Suid trek!!! Die Noorde doen dit net nie vir my nie… Jy het nie dalk contacts daar nie???
As jy kan visvang het jy ‘n “job”!
Nou praat jy my deel van die wereld ook – daar is nie n mooier plek as Hermanus nie. Dit is “huis” vir my daai. My ouers het self in Onrus gebly (naby die 7-11), en toe uitgetrek na Fisherhaven toe so n paar jaar terug.
Dit klink seker baie “boring” vir mense, maar ek sien altyd uit na my vakansie in Hermanus. Jou ouers het naby “What the Dickens!” gebly? Lekker kuier plek. Gelukkig is dit afdraend huis toe vir my na die kuier.
Jy herroep nou weer van die mooiste herinneringe uit my jeug met hierdie skrywe. Hoewel Onrus se karakter baie verander het, is dit nog steeds ‘n plek wat baie na aan my hart le en waar ek tuis voel. Sal nooit my soektoegte tussen al die pragtige rotspoele as ‘n klein seun, vergeet nie. Daar is mos ook Skulpiesbaai (maar weet nie meer of hulle dit so noem nie. Al die “pampeontjies” wat ons altyd opgetel het en die reuse perlemoenskulpe wat gewoonlik as asbak gebruik is. En die samesyn in die karavaanpark. En swem in die groot strandmeer. Ai, ek’s lief vir die plek.
As laaste punt, diep ek nou seker weer ‘n OU debat op, maar is Onrus se korrekte naam nie Onrusrivier (sonder die “t” nie?)
Wel jy krap nou aan iets! Dit was oorspronklik geskryf met ‘n “t”. Ek kan dit nog goed onthou as kind. Dit is jare later verander om dit meer in lyn met Afrikaans te bring. Ongelukkig het ek vasgesteek met die “t”. Jy sal merk dat van die Provinsiale naamborde in die omgewing ‘n “t” ingeverf word deur ‘n geheimsinnige persoon. Dit is maar turksvy.
Jy dink aan “Davies Pool” by karavaan park. Dink daar het menige kinders hulle liefde of gly gekry vir die see. Vreeslike lekker veilige speelplek vir kinders. Ongelukkig het die gebied rondom Skulpiesbaai, baie gevaarlik geword as gevolg van die misdaad en vele mense is al aangerand daar.
Ja, ek’s goed bekend met die gemodifiseerde naamborde. Was altyd vir my baie snaaks dat mense so emosioneel kan raak oor die letter “t”. Veral in die lig van die feit dat name nou links en regs verander word (nie net die laat van ‘n letter nie).
Jammer om van Skulpiesbaai te hoor, maar hoe dan nou ook anders…?
[...] Related Post: Verkoop van my area. [...]