Die Afrikaner legende.
Rustig | Nov 16, 2009 | Comments 58
Ek gaan nou seker lekker op tone trap en paar heilige koeie se hormone hel hoog op stoot. Ek voel net dat dit is nou tyd om bietjie ys water op die ou hol rug geryde ou donkie te gooi. Mense! My volk! My mede Afrikaans sprekende Suid Afrikaners! Asseblief! Ek vra mooi! Skrik wakker en ruik verotte karkas van die dooie Afrikaner. Hy is dood! Hy het nog nooit geleef nie! Dit is en was ‘n legende! Dit was ‘n strooipop. Die Afrikaner het nog nooit bestaan nie. Afrikaans sprekende Suid Afrikaners wel!
Ek weet sommige sal nou seker weer galbraak. Die rede hoekom ek so sê is dat die sogenaamde Afrikaner nog nooit kon saam staan as een nie. Vandat die eerste “dwars trekker” sy wa gepak het en uit die Kaap getrek het, was daar nog net onmin. By elke halte was daar ‘n gestryery oor wie is wat en wie loop voor en wie moet wat doen. Dan split die groep en daar neuk hulle weer in verskeie rigtings die wildernis in. Dan wonder mense hoekom was dit so maklik vir die Britte om die land te regeer? Hoe kan ‘n volk homself iets noem as hy nog nie saam kon staan as een nie? Niks het nog regtig verander intussen nie. Die onmin is selfs vandag nog aan die gang. Hoe op aarde dink die sogenaamde Afrikaner gaan hy die mas opkom as daar verdeeldheid is. Dit baklei in die kerk, met die bure, selfs deesdae op die internet gun ons mekaar niks. Ewige vertrapping van die naaste. Daar word gehang aan verstokte geskiedenis en gebeurtenisse. Dink jy vir een oomblik dat slegs Afrikaners het in die konsentrasie kampe gesterf?
Onthou dat Afrikaans is slegs ‘n taal soos Engels of Frans. Braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet is nie ‘n kultuur nie! Dit is aktiwiteite wat baie nasies geniet. Net omdat jy die koeksister vleg kompetisie wen maak nie van jou ‘n Afrikaner nie, net soos die Koedoe-bok-drol-ver-spoeg Kampioenskappe nie van jou een sal maak nie. Wanneer gaan ons as Afrikaans sprekendes tot die besef kom dat ons is deel van ‘n nasie en land? Ons is Suid Afrikaners. ‘n Duits sprekende Switser is eers ‘n Switser en dan ‘n Duits sprekende Switser. Nie anders om nie. Hoekom kan ons nie eers Suid Afrikaners wees en dan Afrikaans sprekend? As gevolg van die gedurige bakleiery in die openbaar en in die media en blogs maak ons net meer belaglik in die oë van die wêreld. Onthou julle nog die leuse op die ou landswapen? “Eendrag maak mag.” Die leuse op die Afrikaner landswapen lees: “Tweedrag breek krag”!
So ek stel voor dat jy sommer dadelik die oorblyfsels van die legendariese Afrikaner by die agterdeur uitvee en nuwe blaadjie omslaan. Vergeet wat ouma en oupa, die Broederbond of die NG Dominee vir jou geleer het oor die “volk”. Die volk wat nog nooit was nie het gevrek! Begin jou nuwe dag as ‘n Suid Afrikaner en dan Afrikaans sprekend! Glimlag vir jou buurman. Gaan maak vrede met die persoon wat jy so verag en van kwaad praat.
Asseblief! Vergeet net van die Afrikaner! Hy is en was nog nooit gewees nie, sal ook nie wees nie. Los dit vir storietyd!
Filed Under: Sommer Net

BAIE waar Rustig – eintlik BAIE waar. Jy som op wat ek mos so naarstiglik gaan soek het – onthou jy nou weer – my mense – waar om in te pas in hierdie land – ja – jy maak sin.
En die absolute seer waarheid is dat ons slegs tussen 1948 en 1978 kon saamstaan.
Ek dink dis omrede die Afrikaner uitgespruit het van soveel verskillende volke en dat ons agv van daardie ou kulture so dwarsgetrek het.
Inderdaad – die Afrikaner moet hom/haarself beskou as ‘n Afrikaans-sprekende Suid-Afrikaner.
@Sammi: Ek gaan so bietjie verskil oor daardie 1948 en 1978 saamstaan. Die sogenaamde Afrikaner was nog steeds maar dwars onder mekaar. Die enigste rede hoekom daar ‘n kunsmatige samehorigheids gevoel was, is agv dat ‘n klein handjie vol die reëls gemaak het en die res onder die indruk gebring het dat dit is goed vir hulle. Die Broederbond is en was die Afrikaner se Stasi. “You were not allowed to speak your mind.”
Ek is dan seker ‘n ou broederbonder se kind Rustig! Seker DIE dat ek daai glo
Ek is die kind van ‘n Vrymesselaar! Dit spreek seker boekdele vanself!
Rustig nou wat beteken dit?
Nee regtig ek pleit dom.
[...] praat vriend Rustig in sy wysheid oor ons as [...]
Maar ek hou nogsteeds van DelaRey – gee my nogsteeds hoendervleis
Ek is ‘n Afrikaansprekende Suid-Afrikaner… en moer trots daarop.
@Demoerin: Ek stem saam. My paspoort, geboorte sertifikaat sê Rep van Suid Afrika. Nie Orania, Rep van Afrikaner nie.
Ek kon dit nie beter stel nie.
Goeie inskrywing Rustig.
Hmmm nou wie sal die heilige koeie wees?
I are a african
Ek praat afrikaans, wat tog een van die amptelike tale is… verder as dit… ril en sidder ek om te glo daar is wel individue wat wel as ‘n Afrikaner wil leef soos ons die prentjie ingekleur het.
@GvS: Die enigste “heilige koei” wat ek ek sien jy dood skiet is die verkragting van die Engelse grammatika!
Maar dis mos hoe ons van agter die boerewors gordyn praat??
LOL! Is die woord “Afrikaner” nou die nuutste taboe saam met die vreeslike “k”-woord? Wanneer kom “Boer” aan die beurt? Is Afrikaners nie maar net Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners nie?
En ek’s bevrees ek verskil van jou. Ons is deel van ‘n groep mense (ek sal hulle dan maar nie ‘volk’ noem nie) wat in ‘n groot mate dieselfde is. Dalk nie dieselfde oor alles dink nie, maar dieselfde taal praat, dieselfde humor geniet, ens. En om dit te erken, beteken nie dat jy dink jy’s beter as enige ander groep Suid-Afrikaners nie.
Maar ja, mens behoort eers ‘n Suid Afrikaner te wees en dan ‘n Afrikaner. (Sorry, ja, ek dink die Afrikaner bestaan wel.) En ja, ek glo mens moet uitreik na ander Suid Afrikaners…MAAR daar is niks mee verkeerd as jy die kampioen bokdrolspoeger of koeksistervlegger is nie. Om skaam te wees vir jou agtergrond is ook nie nodig nie.
En hiermee moet ek ook mee saamstem Vlam – ek IS nie skaam vir allie dinge wat eie aan ons is nie. Nee, om die waarheid te sê JUIS die feit dat ons wel hierdie kon ontwikkel beteken dat ons wel op ‘n tydstip ons eie kultuur ontwikkel het. Dat ons WEL op ‘n plek gekom het wat enig aan die Boer was – JA – ek HOU van Boerwees. Al is ek nou ‘n stadsjapie!
En mens hoef nie skaam te wees nie – NEE – ons MOET trots op ons herkoms wees.
TOG is ons NOU skaam vir daardie en DIS juis wat ons ondergang gaan beteken.
Die Zoeloes bly nogsteeds trots op hul kultuur.
Die mense wat NIE hul eie kultuur in SA ontwikkel het nie was die Engels Sprekende Suid-Afrikaners.
Elke ander kultuurgroep staan nog sterk, BEHALWE ons
En DIS baie sad.
Ons moenie afstand doen van daardie nie, want dan word ons net nog ‘n klomp “floaters”
MAAR ek stem 100% saam met Rustig oor die feit dat ons waaragtig sukkel om elke oukie sy regmatige plek (eie kultuur ingesluit) te gun.
@Vlam: Natuurlik mag jy verskil!
Ek is nie skaam omdat ek van Suid Afrika is nie. Al het ek Dubbele Burgerskap is my antwoord altyd Suid Afrika as iemand vra ek vandaan kom. My geboorte sertifikaat sê ook so en selfs my Ierse Paspoort ook. Ek skaam my ook nie vir koeksisters en jukskei gooi nie, nie dat ek dit self kan doen nie. Ek het probleem met die woord. Dit is ‘n woord wat ons onsself toe geien het. Soort van uitverkorene volk of iets. Die wêreld moet vir ons jammer voel! Jammer om te sê, maar die wêreld voel niks nie.
Met ons houding en onder mekaar se hare invlieg oor alles, gaan maak dat die Afrikaner op ‘n selfmoord missie is. Hoe meer ons daarop aandring ons is spesiaal, hoe meer vyande maak ons. Dalk is dit ook tyd vir die ou kampvegters om op pensioen te gaan na Orania. Die Afrikaner se tyd is om nou te sterf. Dalk eendag as ons groot geword het, uit die as opstaan en dan die naam met trots toeien. Tot tyd en wyl nie.
Ek is ook nie boer nie, want ek bly al sedert 1985 nie meer op ‘n plaas nie.
By die regerende party in Suid-Afrika en meeste nie-Afrikaners en die buitewereld is daar geen onsekerheid oor wie en wat die Afrikaner is nie. Maar ek stem saam dat die Afrikaner se ondergang tweespalt is en die onsekerheid oor hulle identiteit, soos jyself nou weer hierbo illustreer. Die bewindhebbers in Suid-Afrika het goed geslaag om die Afrikaner te verguis, hulle trots weg te neem en hulle geskiedenis te kontamineer. Jou inskrywing getuig hiervan.
@BiB: Dalk het die skrywe nie reg uitgekom nie. Ons hoef nie saam te stem met die regering og enige iemand nie. Ons moet deelneem as Suid Afrikaners en beter toekoms vir almal bepleit. Die “volks vaders” stry net altyd vir die Afrikaner se behoud. Selfsugtig as jy my vra.
As daar so baie organisasies in Suid-Afrika is wat stry vir spesifiek swartmense se sukses (BMF, BLA, BEF ens. ens.), is daar ook seker niks verkeerd om te stry vir Afrkanerbelange nie of hoe? Ons woon in Afrika, nie in ‘n Skandinawiese soasiale demokrasie waar minderheidsregte en groepsregte gewaarborg is nie. Die “beter lewe vir almal”-droom is die ANC se aanhef, wat ironies uitgeloop het op ‘n beter lewe vir ‘n klein groepie elitiste en slegter lewe vir meeste van die res.
En as nagedagte: miskien sal Afrikaners meer genee voel om hulle deel by te dra in Suid-Afrika as volwaardig erken word as Suid-Afrikaners. En al sou Afrikaners volledig mee doen aan die bou van Suid-Afrika (wat baie steeds doen), beteken dit nie hulle hoef hulle eie herkoms te verguis en te verkleineer nie. Net so goed om vir enige Xhosa of Zoeloe te gaan se hy moet sy herkoms verloon anders kan hy/sy nie Suid-Afrikaans wees nie.
Baie Baie geldige punte hierdie Boer – die situasie hier is baie meer gekompliseerd as wat mense besef. Dis hoekom ons eintlik almal dieselfde ding sê op verskillende maniere.
Vraag is: HOE gaan ons hierdie regstel?
Waar begin mens?
Rustig, jammer maar ek verskil van jou. Die feit dat ons nie kan saamstaan nie, wys op die inherente krag van die individue. Hoe vervelig sou dit nie wees as almal oor alles saamgestem het nie. Ek is nou nie ‘n deskundige nie, maar ek sou nogal geld wou wed (if I were a betting “man”) dat jy nêrens in die wêreld ‘n volk/nasie/taalgroep sal kry wat almal saamstem nie. Jy sal wel ‘n algemene landstrots kry soos in die VSA, maar saamstaan ……. ek twyfel sterk.
Die hedendaagse modegier om die Afrikaner/Afrikaanssprekende Suid Afrikaner te wil afkraak en die feit dat so baie van ons mense daarvoor val en begin skaam word vir ons herkoms, is maar net die resultaat van die nuwe bewind se verdagmaking en verdraaiing van ons geskiedenis. Hulle het nogal, dink ek, beter daarin geslaag as die Engelse destyds – ‘n debateerbare stelling. Lyk my die “divide and conquer” metode werk hier aan die suidpunt van Afrika.
My hartsbegeerte is dat die jonger mense, die Afrikaner soos hy deur die jare ontwikkel het, sal onhels, met vratte en al – niemand is volmaak nie, en uit die verlede sal neem wat goed was en sal verbeter aan dit wat sleg was. Ons mag nie die verlede vergeet nie en ons moet ons koppe optel. Die Afrikaner het letterlik berge versit om hierdie land op te bou tot dit wat vandag nog sigbaar is deur al die aftakeling van die afgelope tyd heen. Ek sê vir geen oomblik dat dit net die Afrikaner se toedoen was nie, maar ons het ‘n reuse aandeel daaraan gehad. Ons het niks om ons voor te skaam nie, inteendeel. Groetnis
Elke een van ons maak baie goeie punte.
En ja ek stem saam met jou ook Marietjie, dat ons HET hierdie land gebou (maak nie saak oor al die kritiek ten koste van ens ens nie – want ek onthou BAIE goed in 1970 het blankes 79% belasting betaal
79c uit elke rand se verdienste wat na die staatskoffers gegaan het – en GEEN ander nasie het bygedra nie. En die feit bly staan dat die swartes NA die stede toe getrek het agter werk aan en nie andersom nie. Maar disse storie virre annerdag.
En dat ons nou ontneem is van sekere regte waaraan ons gewwond was, is ook so. Maar wat ek baie sterk oor voel is omrede ons nou “waardeloos” voel – ons ook so optree.
En DIS vir my die hele punt. Omrede ons waardeloos VOEL, hang ons nou sensasie aan, want wat anders IS daar? En ons kla, maar ons DOEN niks nie.
So ons sal ONS gesindheid MOET verander of ons gaan NIE oorleef nie. En dit sal begin by die einste Boere-Afrikaner se eie uitkyk en hart.
@Marietjie: Daarmee stry ek ook nie. As ek praat van saam staan, dan is dit om gemeenskaplike doel te bereik. As jy bietjie die Switserse geskiedenis lees, dan sal jy sien dat hulle nog steeds oor en weer baklei, maar as die land in gedrang is of daar iets is wat die volk beinvloed, dan word die “petty” verskille eers opsy geskuif.
Ek sê weer ek is nie skaam oor my herkoms nie.
Hieronder is ‘n aanhaling uit ‘n artikel wat een van ons dominees in ons gemeenteblad geskryf het. Ds. Kruger de Kock is Londen toe gestuur met die opdrag om te arbei onder die Suid Afrikaners in Londen. Dit het gelei tot die stigting van die Canada Water Kerk in Londen. Hy het die artikel geskryf na hy in New York was vir Kerkplanter Opleiding.
“Wat ek egter besig is om stadig en diep te leer, is dat die Evangelie van Jesus Christus die enigste hulpbron is wat ‘n gemeente in staat stel om wêreldstede soos New York, Londen en Johannesburg volhoubaar te kan dien. Daar was al verskeie mislukte pogings deur die wetgewers om stede te verchristelik en uiteindelik wette te verchristelik. Jesus Christus se eie voorbeeld (Fil. 2) en die geskiedenis het ons egter geleer dat die kerk nie mag, invloed of status moet begeer nie. Nee, wat die stede kan verander, en wat reeds in plekke soos Korea, China en Nairobi gebeur, is dat individue nuutgebore word en dan Christelike waardes van die wetgewers en politici begin vereis. Nie net dit nie – maar hierdie Christene ondersteun die waarheid van hulle geloof deur selfopofferende Christus-gesentreerde diens. En hierdie diens is nie net wanneer gelowiges in sopkombuise gaan werk nie, maar veral waar Christene hulle geloof deur hulle beroepe begin uitleef. Met ander woorde: die Christene word die heel beste burgers van ‘n gegewe stad, en plaas om dié rede die Evangelie in die kollig.” Ds. Kruger de Kock.
Hierdie is nou ‘n lang paragraaf om my punt te illustreer. Ons as Afrikaners moenie probeer om ander mense te dwing om in te val by ons nie. Ons moet só leef dat mense met ons WIL assosieer.
Jammer vir die lang kommentaar.
Alles reg met kommentaar. Jy mag maar langes skryf.
“Maar ek stem saam dat die Afrikaner se ondergang tweespalt is en die onsekerheid oor hulle identiteit, soos jyself nou weer hierbo illustreer. Die bewindhebbers in Suid-Afrika het goed geslaag om die Afrikaner te verguis, hulle trots weg te neem en hulle geskiedenis te kontamineer. Jou inskrywing getuig hiervan.”
Netjiese, kontroversiële inskrywing; ewe netjiese, fyngemete kommentaar.
Hierdie is maar die finale fase van destydse Totale Aanslag – dit is nie destyds geglo nie; hoekom sal dit nou geglo word.
Derhalwe, my persoonlike standpunt – ek dra trots die label van Boer. Ek boer nie op ‘n plaas nie; ek is nie eienaar van ‘n plaas, maar ek is Boer. Basta. Ek is nie ‘n Afrikaner of Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner of watter kombinasie van wat ookal nie. Ek mag 80% van elke weeksdag nie eers Afrikaans praat nie, my genugtig! Afrikaans se gebruik is amper so beperk soos die rookplekke.
Ek is trots op my herkoms en my geskiedenis – dit is my wortels. Ek is trots daarop dat net die osse wat die waens getrek het, kon saamtrek in elke trek oor elke berg. Hoekom sal ek skaam wees daaroor? Om die waarheid te sê: my eerste instink is sommer al wat leef en beef wie anders as ek dink en doen en binne trefafstand kom, sekuur en seker moer toe te skiet met die eerste die beste geweer aan my sy! Trotser is ek op die feit dat ek wel by magte is om op ‘n klip te sit en nie te skiet nie, maar te peins oor die toekoms van hierdie land en sy mense. Om ons land se mense en situasie te vergelyk met ander lande, is daar ‘n kernfaktor: hoe homo-/heterogeen is die ander land se bevolking? DIT is waar die verskil lê.
Dankie vir hierdie. Ek is nog steeds ‘n Boer.
8wat hello. Ek is nie bewus daarvan dat een van die anderstaliges verbied word om hulle taal in die werkplek te praat nie, hoekom dan die Afrikaner? Ons gaan doodeenvoudig welwillendheid moet “verdien” d.m.v. ons gedrag en werkswyse ……… ons moenie probeer dwing nie, en ons moet ook nie ‘n “’skuus dat ek lewe” houding hê nie. Dankie vir die wat nog trots is om Boer/Afrikaner te wees. Ek weet ek is, al sou ek dalk eendag in ‘n ander deel van die wêreld woon. Groete
Dagsê, Marietjie
Gits, in die werkplek is Engels die voertaal. My werk is om te kommunikeer – geskrewe of gesproke woord. Informele kommunikasie is mos nie deel van die werksdag nie. Dieselfde geld weliswaar ook die ander tale. My punt is dit is nie my taal wat ek praat wat my label as die of daai nie. Wat definieer ‘n kultuur, oftewel waaruit bestaan ‘n kultuur? Is dit kultuur om beeste in die agterplaas te slag en om ‘n gat in die grond te grawe, ‘n bok se bloed daarin te gooi en dan rondom die gat met die bok se bloed in, te dans, aartsvreemde geluide te maak en allerhande ander goete te doen omdat die voorvaders reken dan gaan dit beter gaan? Is dit kultuur om ‘n dier op ‘n spit te sit en te braai en na een of ander vorm van ballerige sport iewers te kyk en dan die vleis op die spit gaarder te drink? Of wat is kultuur? Ek weet dit nie eers meer nie! Neewat, Marietjie, Ouding dwing niemand tot niks en Ouding het lankal ophou verskoning vra dat Ding lewe – Ding doen net daai. En ja, dis sekerlik wat ons behoort te doen.
Ek kan in elke geval nie koeksusters bak nie
Toe maar ek ook nie. Nog minder bok-drol-spoeg.
Ooops…. ek het dit al gedoen
En ek ook…vet pret!
Hoop julle twee het julle monde uitgespoel met mampoer!
Rustig, dis net ‘processed’ gras. Silwerskoon.
Liewe mede burgers, ooms van die sinode, lede van die kappie kommando en basaar tannies, verstaan tog dat ek nêrens genoem het dat ek my skaan oor waar ek vandaan kom nie, nog minder oor dat ek afrikaans praat of selfs sondag skool gedop het nie. Die pyn wat ek het is oor die titel wat ons vir onsself toeien en dan daar agter skuil. Jy mag maar braai of volkspele hou.
Ek was nooit deel van die kappie-kommando nie MAAR ek was wel ‘n Afrikaner, van geboorte af. Die volk was Afrikaners en ek WAS en is NOGSTEEDS trots daarop. En toe ek met ‘n Engelsman trou toe word ek die Boertjie. En toe ek weer vir myself moes dink, toe word ek oopkop. En nou besef ek, ek is nogsteeds daai in my hart, maar dis JUIS die Afrikanerhart wat so seergekry het die laaste paar jare, wat jou noop om jou kop te begin gebruik. En te figure HOE jy gaan inpas en aanpas, SONDER om jouself te laat verlore gaan. En dis waar die oopkop na ‘n oophart moet lei.
Dus verstaan ek nou dat ek as Afrikaans Sprekende Suid-Afrikaner SELF moet besin oor WAAR ek inpas.
Want aan die einde van die dag IS dit ons enigste keuse. Oor die HOE.
Dankie Rustig – ek het hierdie debat geniet! Doet so voort
baie dankie Rustig dan sal ek nou maar wegspring….
♪♫
Afrikaners is plesierig,
dit kan jy my glo,
hulle hou van partytjies,
en dan maak hulle so:
Eers draai die ou vroutjie
en dan draai haar ou man,
en hy vat haar om haar lyfie
en dan draai hulle saam.
Goeienag, my ou vroutjie,
goeienag, my ou man!
Oor ‘n week ‘n partytjie,
en dan draai ons weer saam. ♪♫
Sorry ek kon myself nie keer nie
Jy kan mos inskryf vir daardie sing kompetisie, Wip! Ek sien al hoe draai jy met jou kappie en sis rok.
Ek dink jy is op ‘n semantiese verbeeldingsvlug.
Ja ek is dalk, maar tog heg mense vreeslik waarde aan dit.
Uhmmm jy vergeet Rustig ek het vertroebelde bloed, ek sal wil tango met die ou omies en dan slaan hulle neer. En dalkies net gooi ek hulle met “God saves the Queen”, kan jy jou indink wat se chaos sal dit afgee.
Nee ek grap sommer ek is ‘n trotse Suid Afrikaner, ek skreeu vir die Protea’s en bokke en ek praat Afrikaans al is dit soms bietjie met die engels gespice. Dis maar soos met kos, niks verkeerd met bietjie kruie en speserye dit maak dinge net meer interessant
Hierdie was ‘n lekker debat, ek het dit heeldag gevolg en nodeloos om te sê baie geniet.
Wip maak ‘n diep buiging met haar sissende rok en skuif die kappie mooi reg op die kop ….
Vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny,
en vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny.
My geliefde hang in die bos,
my geliefde hang in die bos,
my geliefde hang in die bitterbessiebos!♪
Ooeeeeeeee My Wippers! My swak nostalgiese hart!!
Vinkel-en-Koljander, julle het die lag in die dag teruggesit! Ek sien al vir Wipstertjie daai kappie verwoed regskuif met sulke rooikolwangetjies en lostrek met daai nommer! Kierts, kan ‘n man dan nie!
Sammi
Vrou ek moes soek vir die, ek het verkeerd begin sing, ek wou self inspring en die koring sny.
Vanaand gaan ek koring sny, koring sny en daar hang my geliefde in die bos, oh my word hy hang in die bos, dis ‘n vervlakste bitterbessie bos en help my die koring sny dat ek my geliefde asb kan gaan red uit daai….. bitter bos….*grin*
Ek is nie in die bitterbessie bos… oh no, ek hak nie vas by die verlede of wens dit terug, ek lewe te lekker hier in my stukkende land (hier praat ek van misdaad en goed wat verkeerd is in die politiek en die hel wat ek van SARS kry
ens), maar die punt is ek lewe nogsteeds te lekker. EK IS TROTS SUID AFRIKAANS.
Ag help asseblief vir Klasvaakie hier… Hoe hang jy in’n bitterbessiebos?
Verkieslik regom, Girlie
Girly ek dink die ding het dorings en hy gryp jou aan jou broek en dan hang jy seker in die lug, mens kan ook nie eindelik skreeu nie, net nou kry jy van daai bitter goed in jou mond.
Ek weet nie eers wat is ‘n bitter bessie bos, behalwe dat sy bessies seker uitspoeg sleg is.
Weeeelll…as ek so na die comments kyk, is die Afrikaner nog springlewendig en vol woema!
Natuurlik Vlam…. anni brand!!
Dit wys jou hoe ‘n paar woorde die mense op hol kan jaag!
As ek mag, tog sekerlik sommige NG Dominees.Dis nie dat ek oorsensitief is nie, maar dit is darem bietjie van ‘n wrede veralgemening. Andersins stem ek 100% met jou inskrywing saam. Suid Afrikaner is ook ‘n goeie beskrywing. Op ‘n ander plek word daar oor gepraat van Euro-Afrikaner.
Is reg so attie! Dit is ‘n onregverdige veralgemening van my kant af. Ek moet ongelukkig byvoeg en dalk verduidelik hoekom ek so veralgemening gebruik. Ek is/was ook lid van NG Kerk en as jy weet waar ek groot geword het en die drama wat ek as kind moes aanskou wat die NG Kerk (of sal ek liewer sê dominees) veroorsaak het agv predikante en ouderlinge en gemeente lede, wat gemaak het dat die kerk in drie split en vriende en bure nooit weer met mekaar gepraat het nie. Die oorsaak. Politiek, Broederbond en hoe die boodskap van die preekstoel verkondig is.
Ek verstaan dinge het verander, dalk te ver na my sin in so mate dat wat verkeerd is in Bybel nou goed gepraat word.
Ek het al hele paar keer op jou blog gelees en is bewus van jou beroep, daarom vra ek dan persoonlik onverskoning as ek jou te nagekom het oor wat ek geskryf het.
Yip, sela. Ek ken eintlik net één Afrikaner, en dis ‘n beesras
Genade! Nou word die “volk” met ‘n beesras vereenselwig! As dit so is Emil, hoekom het hulle nie hul eie waens oor die berg getrek nie?
Ek is bietjie van ‘n agteros, want ek was weg. Maar nog voor die ou groot trek was ons verdeel, want die redes hoekom ons eerste voorsate hier gekom het, buiten die stig van ‘n buitepos, was mense wat hierheen gekom het omdat hulle ongelukkig was daar waar hulle was. hulle kon nie aanpas nie.
afrikaans = ‘n taal wat baie praat
afrikaner = iets wat sinteties geskep is deur wrede wette
boer = iemand wat plant en oes en saai en melk
afrikaan = dit is wat ons is almal is op die kontinent. ek voel myself ook een. en ek laaik dit.
rustig, ek kan nie meer met jou saamstem nie
Is alles reg Rosa! Ons sal wag vir jou wa net bo-op Bainskloof. Vat jou tyd met die agteros!
Baie goeie inskrywing!!
LOL @ rustig… ek het kameel gery, en hy was stadig. en toe val my kis nog van die was af ook. LOL